Oorspronklik het Johan Yssel as kulkunstenaar bekend geword. Hy het vanaf 1999 met 'n vol dagboek die land plat getoer en gespesialiseer in groot illusies. Hy het op dramatiese wyse die reuse Voortrekkermonument voor 'n lewendige gehoor laat verdwyn en weer teruggebring. In die Big Top Arena by Carnival City het hy onder andere 'n kar laat verdwyn, en ook 'n trekker op 'n oop rugbyveld voor meer as 2000 mense in Clocolan. Internasionaal het hy meer as 900 optredes in teaters en temaparke gedoen waar hy meisies in Bengalse tiere verander, deur spieëls geloop en op komiese wyse sy gehore laat krul het van die lag. Hy het vir 'n tydperk in Taiwan gewoon, die taal leer praat, en deeglike besigheidsbande in veral Taiwan, Hong Kong en Sjina gesmee.


Van die begin af het Johan Yssel die besigheidskant van die bedryf met net soveel vernuf hanteer.  Sy vermaaklikheidsagentskap Global Africa Entertainment is gebore. Vir die eerste tien jaar van sy loopbaan was die primêre deel van sy besigheid om as agent produksies in Suid-Afrika te vervaardig en aan veral temaparke in Taiwan en Casino's in Macau te lewer. Johan Yssel het ook die kreatiewe ontwerper gelewer vir 'n temapark se bou in Sjina.

Plaaslik het Johan Yssel 'n kontrak met SASOL ingepalm en die vermaak en kunstenaars verskaf vir die openingspromosies van al die SASOL garages landwyd. Hy het ook 'n kontrak met Sun International gehad en vir meer as drie jaar lank drie keer per week by Carnival City opgetree.

Later jare het Johan Yssel besturende direkteur van 'n hotel in Namibië geword. Hy het ook in die video en televisie-bedryf betrokke geraak en verskeie TV-reekse vervaardig.  Johan Yssel het ook die vermaaklikheidstydskrif, SA Expo oorgekoop wat die hele Suid-Afrika se feeste lys kompleet met datum, tyd, plek en ander relevante inligting en artikels.

Oor die jare het Johan Yssel by die loopbane van verskeie kunstenaars betrokke geraak en bestuur vermaaklikheidsloopbane met vernuf.
About1